Zimmermann-telegram

Die oorspronklike telegram soos dit van die Duitse ambassade in Washington na die Duitse ambassade in Meksiko gestuur is

Die Zimmermann-telegram was 'n telegram wat op 16 Januarie 1917 aan die Duitse ambassadeur in Meksiko gestuur is deur die Duitse minister van Buitelandse Sake, Arthur Zimmermann, met die versoek om Meksiko te oorreed om aan die Duitse kant deel te neem aan die Eerste Wêreldoorlog. Die telegram is onderskep deur die Britse geheime diens, ontsyfer en oorgedra aan die Amerikaanse regering. Hierdie telegram was die direkte rede vir die deelname van die Verenigde State in die oorlog. Daar was reeds irritasie in die Verenigde State oor die onbeperkte duikbootoorlogvoering wat ook hul handelsvloot getref het; die Zimmermann-telegram was die spreekwoordelike laaste strooihalm wat die kameel se rug gebreek het.

Die Duitse regering het oorspronklik beoog om die Verenigde State uit die oorlog te hou. Maar as dit nie sou werk nie, moes Meksiko maar ook soos Japan Duitsland se kant kies. Japan sou dan Kalifornië kry en Meksiko sou die gebiede wat hulle verloor het ná die Texaanse Onafhanklikheidsoorlog en die Meksikaans-Amerikaanse Oorlog (behalwe Kalifornië) kry. Die Meksikaanse president Venustiano Carranza het nie gedink dat dit moontlik was om die VSA te verslaan nie en ook nie die gebiede waar Amerikaners toe gevestig was, effektief te beheer nie. Daarbenewens was Meksiko gewikkel in die Meksikaanse Rewolusie, wat toe eers onlangs in 'n burgeroorlog ontaard het. Meksiko wou nie ook nog in 'n oorlog met die Verenigde State betrokke raak nie. Hy het die versoek op 14 April 1917 van die hand gewys. Op daardie tydstip het die Verenigde State reeds oorlog teen Duitsland verklaar.


Developed by StudentB